HomePeoplePersonalitiesDeon Groot maak sy hart oop in sy jongste treffer “Hemelpoorte”

Deon Groot maak sy hart oop in sy jongste treffer “Hemelpoorte”

Deon Groot is bekend vir treffers soos “Ek Sweer” en “Wyn” en keer terug met ’n splinternuwe treffer wat beloof om jou hartsnare te roer.

Hemelpoorte is ’n kragballade uit sy eie pen en gaan oor daardie één groot liefde met wie jy jou lewe deel.

“Dit is ’n manlike liefdesballade vir my toekomstige vrou,” sê Deon.

- Advertisement -

“Toe ek dit geskryf het, het ek gaan sit en dink hoe ek eendag graag oor die groot liefde van my lewe wil voel wanneer ek haar vind en watter tipe man ek vir haar wil wees.

“Dit is my hartslied oor wat ek voel liefde moet wees en ek glo dat daar baie mense is wat daarby sal aanklank vind,” voeg hy by.

Dié lied verskil hemelsbreed van sy vorige enkelsnitte en wys sy dieper kant as liedjieskrywer, storieverteller en sanger.

“My vorige musiek gaan oor kuier en goeie tye, so hierdie is iets heeltemal anders,” sê hy.

“Dit beskryf wat ons verwag van die liefde, maar ook oor wat ons kan bereik met God in ons liefde saam. Daarom beklemtoon ek ook Bybelse eienskappe in die lirieke – soos salf aan die deurkosyne om ons huis saam te seën. Dit is vir my sinoniem met wat ’n verhouding moet wees en hoe ’n paartjie saam moet groei saam in die oë van God.

“Dis ’n liedjie oor ’n man wat kan opstaan en sê hy is lief vir sy vrou. Ek kan nie genoeg beklemtoon hoe baie dit vir my beteken om dié boodskap met almal te deel nie. Dit gaan oor my eie drome en denke oor hoe ek eendag self liefde wil sien en ervaar. Dis ’n hunkering vanuit my hart na dit wat ek glo vir my daarbuite is,” voeg hy by.

Deon vertel dat hy nogal lank aan die lied geskryf het, juis omdat die lirieke so diep, eg en eerlik is.

Alhoewel die aantreklike sanger nog nie self daardie spesiale iemand ontmoet het nie, weet hy dat die wag beslis die moeite werd sal wees.

“Die soektog na liefde neem maar ’n tydjie maar ek dink dat as jy eendag die hemelpoorte sien en jy daardie spesiale een moet groet, tyd op aarde nie ’n faktor moet wees nie. Tot daardie dag kom en my spesiale vrou oor my pad spoel, weet ek dat die wag die moeite werd sal wees. Ek moet net geduldig wees,” sê Deon.

Nog nie die liedjie gehoor nie? Dan moet jy belsis na die unieke musiekvideo kyk.

Dit speel af in ’n boshuis en vertel die storie van ’n man (gespeel deur Deon self) wat die nuus ontvang dat hy nie ’n nierskenker kon kry nie en dat hy net ’n paar dae oor het om te leef.

In plaas daarvan om vir sy vrou (gespeel deur Lujuan Mzyk) te vertel, maak hy die beste van die tyd wat hulle nog saam het.

“Aan die einde van die video, neem dinge ’n onverwagse wending,” sê Deon, maar wil nie verder verklap nie.

“My een versoek aan GVR Produksies was dat geen persoon in die video sal doodgaan nie. Juis oor die naam Hemelpoorte is sal mense dit verwag. Ek wou eerder ’n boodskap van geluk, liefde en hoop bring,” sê Deon.

Kyk hier na die musiekvideo:

Hemelpoorte is op Deon se jongste album, Deon Groot, of by www.umgafrica.lnk.to beskikbaar.

Vir meer oor Deon Groot volg hom op Facebook of Instagram.

- Advertisement -

Must Read